Sunday 5 November 2017

Frances met haar sorgende hande


Dit is `n lang rit vandat ek laas `n inskrywing gedoen het. Want voor ek oor al die ander stof paaie en agterpaaie van die lewe kan skryf is daar een storie wat ek eers uit my hart moet kry. Vir byna 9 maande draai hierdie storie in my hart…hart my kop…in my menswees. Elke keer dink ek hoe sal ek dit benader, hoe sal ek dit skryf en uiting gee aan hierdie storie sonder om oor lyne van taboo onderwerpe te praat?

Dan dink ek.. dit is my storie, my gedagtes en my Vryheid van spraak en my liefde wat uiting kry. So hier gaan ons. As jy nog die oulands vlag hoog wapper, of in elke situasie iets rassities soek, gee ek jou `n oomblik om die berig toe te maak.


“Bye Clara!!” “Bye Mia!!”. Clara stap `n entjie verder en weer kom die klein stemmetjie… “Bye Clara!!!” “Bye Mia!” en toe “ LIef vir jou Clara!!” “lief vir jou ook Mia”. Ek sit op my stoep en aanskou hierdie pragtig en onskuldig liefde van `n klein dogtertjie vir die huishulp. Die klein dogter kuier gereeld by haar ouma oorkant my en het so mooi band met Clara (die huishulp) gevorm. Dis dit wat my terugvat na my eie kinderjare toe.

Die jare in potch het ek min van onthou want ek was maar 3 toe ons daar weg is maar Maria wat na ons gekyk het het gereeld nog gebel en my ma vir haar om te hoor hoe gaan die met die familie. Dit is toe later jare as student wat ek weer vir Maria gesien het toe sy by die studente huis kom kuier het en haar suster later by my so af en toe gewerk het. Sy het vertel van die dae wat sy ons as baba’s kon versorg en pêpa.

Victoria. The Queen. In Cradock het Victoria na ons gekyk en het al die stoutigheid van my broer beleef en ek wou altyd net hand by sit om haar te help met die huistake (my ma het sleg tweede gekom weens dat ek die skoene so mooi gepolitoer het dat die sole ook geblink het, noodloos om te sê het my ma met haar gepolitoerde sole gely by die trappe af…ek mag nie weer daarna met die skoene gehelp het nie.) Victoria het ook by ons op die erf gebly en somige aande het ons net gaan luister of haar draadloos speel en dan kon ons nagsê. Sy het op die ou stoep saam met ons gewag vir my ma as my ma moes laat werk. Ons het toe verhuis en dit was die laaste wat ek van Victoria gesien het, somige dae wonder ek of sy nog na kinders kyk en waar sy is en of haar draadloos nog op die selfde stasie speel.

Miekie en Roelf. Die twee getroue werkers het by my ouma gewerk en het saam met haar van die plaas in dorp toe gekom toe my ouma dorp toe trek. Vakansie tye het hulle hul hande vol gehad met ons, binne die huis het Miekie die wakened oog gehou en buite het Roelf weer gekyk waste kattekwaad ons aanjaag of waar ons damwalletjies in die bedding maak wat nie daar hoort nie. Geduldig het hul weer als reg gemaak.  Die twee leef nou nog en na my ouma se dood werk Roelf nogsteeds by haar huis, soos hy sê “ Ek sal elke dag mooi kyk na die ounooi se erf, al is sy nie meer hier nie”. Twee kosbare mense wat altyd daar was en in soveel herinneringe van my as kind ook.

Die laaste een en die een wat hierdie hele inskrywing geinspireer het is…Frances. Dit het `n rukkie geneem voor sy in ons lewens gekom het. In Kimberley het dit maar sukkel sukkel gegaan om `n huishulp te kry en na `n paar  en om in die nasorg by die skool te wees was ons as kinders, en ek dink my ma ook, op ons laaste. Hoe Frances in ons lewe gekom het kan ek nie presies onthou nie. Sy was ons middag ma. As ons by die huis gekom het van die skool het ons kos altyd reg gestaan (heerlike) met Oros in die somer en tee in die winter. Sy het die heerlikste vetkoeke gemaak, en sy maak nog vandag vir my as ek by die huis kuier. Frances het ons met baie laat weg kom by haar, maar sy het altyd geweet as ek `n slegte dag gehad het en `n ekstra koppie tee nodig het. As ek op die bank aan die slap geraak het het sy my kom toe gooi of as ek geslaap het in die middag het sy my betyds wakker gemaak vir my sport. Sy het altyd geraas as ek nie vinnig genoeg my wasgoed weggepak het nie.  Sy het ook vir my broer gelieg as die skool bel en vra of hy by die huis is terwyl hy en sy vriende skool bank om rugby te kyk.

 Frances met haar sorgende hande en mooi hart. Ons het goeie en slegte tye saam beleef. Haar hartseer en slegte tye en ook ons as kinders sin.

Frances het nooit geskroom as ek begin om kersfees koekies te bak vir al die skottelgoed nie, later het ek ook maar self begin was. Die dae as ouma kom kuier het was daar beet, wortels en boontjies ingelê, maar Frances se hande was reg het my ouma gesê.  Die honde was ook bederf met haar en het altyd meer kos gekry as wat hulle moes.

Aan die einde van my matriek het Frances weggegaan. Sy het later vir `n ander huisgesin gewerk met meer kinders en kleiner. Oor kerkstyd kom help sy nog vir my ma uit met die skottelgoed en huis skoon hou met die gaste daar. Toe ek die dag my karretjie moet laai en my woonstel moet ontruim om Garies toe te trek het ek geweet die sal Frances wees wat moet kom help. SY het in verwondering gestaan toe ek die kar laai oor als was daar kan inkom en sou dit nie geglo het as sy die nie self gesien het nie.

Februarie 2017, die naweek waar die storie begin het. Dit was die naweek wat ek voorgestel is op die kerkraad en my ouers het besluit hul gaan opkom vir die geleentheid, dit is toe wat die idee kom dat Frances en die honde ook moet saam kom. Nie Frances of die honde het al die see gesien nie en dit was een van haar grootste drome. Frances het afgekry by haar werk en is saam in die kar. Dit was die eerste keer in haar lewe wat sy verder as 50km weg van Kimberley is. My pa het Vosburg, Carnavon< Calvinia en toe N7 roete gery. Hitler wou net heelpad op Frances se skoot sit. Toe hulle hier stop by my was dit oorweldigend gewees (Frances was so deftig uitgevat). Ek was so trots om vir haar my huis, werk en kollegas te wys. Dit was nie lank stil sit op die stoep nie toe begin Frances skoon maak. Die naweek was vol nuwe ervaring vir haar en nogsteeds sou dit nooit genoeg wees om vir haar dankie te sê nie. Die Saterdag is ons Hondeklipbaai toe met die honde ook in. Sy was in verwondwering en kon dit nie glo nie. Sy het stil geraak vir al die water wat voor haar lê. Ons het met die honde op die strand baljaar en sy het haar voete in die see gesit. Om dit met haar te kon deel was `n kosbare oomblik gewees.

 

Toe groettyd kom was my huis leeg maar my hart was oorvol gewees. Hulle het toe Springbok- Upington om terug gery. Frances met haar sorgende hande het my huisie laat blink en my hart laat glimlag. Sy het die hele Noord-Kaap deur gery en die see gesien in een naweek. Die mense wou haar nie glo nie en ek moes vir haar foto’s laat uitdruk om vir hulle te wys.


Die vrou met haar sorgende hande en haar mooi hart…die vrou wat my begin tswana leer het in die middae, die vrou wat die mooiste glimlag het al is haar hart seer, die vrou wat nederig is en dankbaar, die vrou wat die lekkerste vetkoeke maak, die vrou wat `n koppie tee die perfekte soet kan maak, die vrou wat my soveel lewenslesse geleer het al het sy diy nie besef nie. Venand sê ek vir haar dankie. Ek sal altyd dankbaar wees dat sy deel was van my groot word jare en nogsteeds daar is om te sien die vrou wat ek vandag is.

Nederigheid en dankbaarheid vir hierdie engel van God wat in my lewe is.

Monday 3 July 2017

Resensie: Honne-Hemel, Oubaas


Ek het lanklaas `n Agter-pad storie gehad om te vertel, maar voor ek op my volgene reis gaan moet ek die afgelope naweek sin eers deel.
Dis vrydag middag na werk en die naweek lê oop voor my. Die pad na Hondeklipbaai is al wat tussen my en sielsvrede nou is.

Vanaf Garies is dit ongeveer 93km na Hondeklipbaai. Jy het `n keuse uit 2 roetes naamlik die meer “scenic”roete wat slegs uit grondpad bestaan ( hierdie roete is Noord op die N7 10km buite Garies) of die roete waarvan byna 30km geteer is  via Klipfontein. As jy hastig is vat die Klipfontein roete, maar as dit mooi gereën het dan kan jy dalk `n blomme prag mis. Dit bly jou keuse en die vermoë van jou voertuig.

Hondeklipbaai is `n klein vissers dorpie aan die weskus. Met geen petrol stasie of inkopie winkels nie. Hier is ontspanning en mooi natuur volop.

Eenkeer per maand besoek ek Hondeklipbaai vir werk maar die keer was dit vir ontspanning.

Ons plekkie was bespreek by die Honne-Hemel by Lia en Koos.  Hulle het 2 huisies beskikbaar. Die huisie wat 6 mense gemaklik kan huisves is heerlik ingerig en het werklik alle benodighede vir `n naweek wegbreek of selfs langer. Die huisie het 3 braai geriewe waarvan jy kan kies… vir `n koue reënerige aand is daar die opsie van `n binne braai of dit kan as kaggel dien vir heerlike aand van kaart speel om die kombuis se tafel, die 2de opsie is is knus braai plekkie waar hout bankies is vir kuier om die vuur, en dan die 3de opsie is die voorstoep met losstaande braai maar `n uitsig oor die sakkende son en tuimelende branders in die baai oor die skeepswrak.

Die naweek se weer was meer aan die koelerige kant as warm maar dit was nie onplesierig  nie. Die aand het ons by die restaurant, Dop en Kreef, gaan eet wat aan Koos en Lia se dogter, Lohana, behoort. Hier sal jy heerlike seekos kry met `n  mooi uitsig op die baai. Vir ons was dit net die geluid van die branders wat kom rus vind in die baai en die krakende hout van die kaggel vuur op die winters aand. Soos gewoonlik was dit kos hemels en die aand gesellig. By die huis is daar verder vuur gemaak in die braai in die huis en heerlik tot laat nag om die kombuis gekuier en stalkies gedeel.

Saterdag was dit bietjie laat lê, die seelig het mos maar die effek op `n mens. Ñ koppie koffie op die voorstoep was net hoe ek die oggend wou begin, met die uitsig oor die see en inaseming van ontspanning. Dit was `n oomblik van vergeet-van-jou-horlosie-en-leef-in-die-nou. Middag se kant het Koos om die hoek gekom met 4 krewe mooi skoon gemaak en reg vir die rooster by die aand se braai. Wat `n bederf was dit nou nie.

Mens sal nou dink wat doen mens in hondeklipbaai heeldag behalwe op die stoep sit? Wel, daar is geen winkels so los die kaarte in die huis of kar, hier is net natuur aktiwiteite. Besoek die Aristea skeepswrak en geniet `n heerlik middag piekniek  langs die strand (daar is braaigeriewe langs die strand beskikbaar), baljaar met die honde tot hulle moeg is. Ek sal nie aanraai om in die water te baljaar nie behalwe as dit hoogs somer is (die water is verfrissend koud). Verder meer kan jy verby die ligtoring na Moordenaarsbaai stap/draf/fietstrap of ry, vra vir die mense om die storie oor te vertel waar die baai sy naam vandaan gekry het.

Verder meer kan `n kreefplaas besoek word. Reël dit net vooraf.  The Shack is `n koffie plekkie met skilderprag wat uitgestal word, gaan loer gerus hier in (daar loop ook Lamas rond).

Die restaurant, Dop En Kreef, bedien heerlike skemerkelkies wat geniet kan word laat middag. Let net op die tye van die restaurant, dit verskil tussen seisoen (blommetyd) en buite seisoen, sowel as skool vakansies, maak maar net seker oor die tye voor jy voor dooiemans deur opdaag en uitmis op die pre ten heerlike kos. (As jy daar kom raai ek beslis die Roomerige Weskus Mossels aan,met die tuisgebakte blikbroodjie). As jy gelukkig is sluit Koos by jou aan en vertel jou die stories en geskiedenis van die dorp, daar is `n paar intressante feite en stories wat gehoor sal word.


Hondeklipbaai is nie vir adrenalien junkies nie, tensy jy in die koue see wil in hardloop en jou hart amper tot stilstand wil skok.  Hier kom jy om jou siel rust e gee en jou kragte te herlaai. Asem die see reuk in die bekommernis uit, kom lag en hoor die visserman se storie van die groot vis, kom geniet die rustigheid waar daar nie na die horlosie gekyk word nie, kom kyk na die skilderkuns sonsondergan en die sterre hemel wat in die aande homself wys langs die strand, jy kan dalk net meer as een verskietende ster raaksien.

Die aande is stil en jy kan net die branders hoor breek , en die ligtoring sien wat sy tyd hou en die kus bewaar. Steek die vuur aan, gooi vir jou `n drankie in, skop uit die skoene en dans op die stoep.

Ons was werklik in die (Honne-) hemel gewees die naweek en die batterye is weer herlaai toe die pad huis toe gevat moes word. Dit was verseker nie die laaste naweek wat hierdie dorpie ons sien nie.

Vat die afdraai op die grondpad en ontdek die verhale van die verlede en die skoonheid wat die natuur vir jou openbaar, jy is dalk net gelukkig en loop `n storie verteller raak wat jou `n skip vol verhale kan gee.

 


Honne-Hemel: Oubaas – Lia  082 960 7734  of 027 692 3095, honnehemel@gmail.com

Dop En Kreef: Lohana – 083 281 8327 (Facebook Blad: DopEnKreef Hondeklipbaai)

Saturday 7 January 2017

Resensie: Sprei jou vlerke


Ek glo dat daar ander ook daar buite is wat soms opsoek is na `n uitdaging, `n onvergeetlike ervaring, `n bucketlist oomblik en iets vir die boeke.

 

Elke nou en dan ervaar ek die gevoel om die limiete te toets en dan net te leef in daardie oomblik. Twee jaar terug het ek en my ma  (nou 55) besluit om die sprong te vat en uit `n vliegtuig te spring. Dit was `n ongelooflik ervaring en voorreg om saam met my ma te kon beleef. Dit was hier waar die wiel begin draai het.

 

Wat sou die volgende uitdaging en belewenis wee swat ons kan doen?

Ons het die tema volgehou van sweef in die lug en besluit ons sal Paraglide die afgelope Desember vakansie.

 

Ek het bespreek deur die span by ”Cape Town Tandem Paragliding”. Dit was `n angename ervaring en hul was baie professioneël en georganiseerd soos `n goed geoliede rat.

 

Dit was `n perfekte dag in die Kaap, `n helder sonskym dag en die wind was perfek vir paragliding. Ons sprong was vanaf  Signal Hill ( Hulle kan ook van Leeukop af die sprong doen, als is afhangend van die wind rigting en weer die dag).  Weens die perfekte weer was almal in die Kaap buite en die verkeer was `n uitdaging maar dit was als die moeite werd. Die span het ons ontvang en die nodige vrywarings vorms ingevul. Dit was nie kort voor lan nie toe word ons ingespan in ons toerusting. Die proses is verduidelik en die moet en moenies is deurgegaan. Ek was reg vir  dit. My ma en broer was reg vir hulle sprong. Ek was eerste op die “ aanloopbaan” en voor ek kan dink hardloop ek by `n berg af (Uit my een tekkie), een sweep en ons is op. My instruktriese (Cathrine) doen paar toertjies en verduidelik hoe dit werk om saam met die windgolwe te sweef.  Dit is fantasties en die gevoel van vryheid. Veilig op die rug van die wind sweef ons af na die promenade by Seepunt waar ons `n sagte landing ervaar. Dit was nie kort voor lan nie toe land my broer en laaste my ma.

 

Die span was werklik baie vriendelik en goed georganiseerd. So as jy in die Kaap area is en bietjie die limiete wil toets probeer gerus hierdie uitstappie.

 

Sprei jou vlerke en vlieg hoog hierdie 2017 en moet nie bang wees om nuwe hoogtes na te jaag nie.

 

Besoek gerus “Cape Town Tandem Paragliding se webtuiste by www.paraglide.co.za o   info@paraglide.co.za. Jy kan gerus ook hul kontak by 076 892 2283