Monday 3 July 2017

Resensie: Honne-Hemel, Oubaas


Ek het lanklaas `n Agter-pad storie gehad om te vertel, maar voor ek op my volgene reis gaan moet ek die afgelope naweek sin eers deel.
Dis vrydag middag na werk en die naweek lê oop voor my. Die pad na Hondeklipbaai is al wat tussen my en sielsvrede nou is.

Vanaf Garies is dit ongeveer 93km na Hondeklipbaai. Jy het `n keuse uit 2 roetes naamlik die meer “scenic”roete wat slegs uit grondpad bestaan ( hierdie roete is Noord op die N7 10km buite Garies) of die roete waarvan byna 30km geteer is  via Klipfontein. As jy hastig is vat die Klipfontein roete, maar as dit mooi gereën het dan kan jy dalk `n blomme prag mis. Dit bly jou keuse en die vermoë van jou voertuig.

Hondeklipbaai is `n klein vissers dorpie aan die weskus. Met geen petrol stasie of inkopie winkels nie. Hier is ontspanning en mooi natuur volop.

Eenkeer per maand besoek ek Hondeklipbaai vir werk maar die keer was dit vir ontspanning.

Ons plekkie was bespreek by die Honne-Hemel by Lia en Koos.  Hulle het 2 huisies beskikbaar. Die huisie wat 6 mense gemaklik kan huisves is heerlik ingerig en het werklik alle benodighede vir `n naweek wegbreek of selfs langer. Die huisie het 3 braai geriewe waarvan jy kan kies… vir `n koue reënerige aand is daar die opsie van `n binne braai of dit kan as kaggel dien vir heerlike aand van kaart speel om die kombuis se tafel, die 2de opsie is is knus braai plekkie waar hout bankies is vir kuier om die vuur, en dan die 3de opsie is die voorstoep met losstaande braai maar `n uitsig oor die sakkende son en tuimelende branders in die baai oor die skeepswrak.

Die naweek se weer was meer aan die koelerige kant as warm maar dit was nie onplesierig  nie. Die aand het ons by die restaurant, Dop en Kreef, gaan eet wat aan Koos en Lia se dogter, Lohana, behoort. Hier sal jy heerlike seekos kry met `n  mooi uitsig op die baai. Vir ons was dit net die geluid van die branders wat kom rus vind in die baai en die krakende hout van die kaggel vuur op die winters aand. Soos gewoonlik was dit kos hemels en die aand gesellig. By die huis is daar verder vuur gemaak in die braai in die huis en heerlik tot laat nag om die kombuis gekuier en stalkies gedeel.

Saterdag was dit bietjie laat lê, die seelig het mos maar die effek op `n mens. Ñ koppie koffie op die voorstoep was net hoe ek die oggend wou begin, met die uitsig oor die see en inaseming van ontspanning. Dit was `n oomblik van vergeet-van-jou-horlosie-en-leef-in-die-nou. Middag se kant het Koos om die hoek gekom met 4 krewe mooi skoon gemaak en reg vir die rooster by die aand se braai. Wat `n bederf was dit nou nie.

Mens sal nou dink wat doen mens in hondeklipbaai heeldag behalwe op die stoep sit? Wel, daar is geen winkels so los die kaarte in die huis of kar, hier is net natuur aktiwiteite. Besoek die Aristea skeepswrak en geniet `n heerlik middag piekniek  langs die strand (daar is braaigeriewe langs die strand beskikbaar), baljaar met die honde tot hulle moeg is. Ek sal nie aanraai om in die water te baljaar nie behalwe as dit hoogs somer is (die water is verfrissend koud). Verder meer kan jy verby die ligtoring na Moordenaarsbaai stap/draf/fietstrap of ry, vra vir die mense om die storie oor te vertel waar die baai sy naam vandaan gekry het.

Verder meer kan `n kreefplaas besoek word. Reël dit net vooraf.  The Shack is `n koffie plekkie met skilderprag wat uitgestal word, gaan loer gerus hier in (daar loop ook Lamas rond).

Die restaurant, Dop En Kreef, bedien heerlike skemerkelkies wat geniet kan word laat middag. Let net op die tye van die restaurant, dit verskil tussen seisoen (blommetyd) en buite seisoen, sowel as skool vakansies, maak maar net seker oor die tye voor jy voor dooiemans deur opdaag en uitmis op die pre ten heerlike kos. (As jy daar kom raai ek beslis die Roomerige Weskus Mossels aan,met die tuisgebakte blikbroodjie). As jy gelukkig is sluit Koos by jou aan en vertel jou die stories en geskiedenis van die dorp, daar is `n paar intressante feite en stories wat gehoor sal word.


Hondeklipbaai is nie vir adrenalien junkies nie, tensy jy in die koue see wil in hardloop en jou hart amper tot stilstand wil skok.  Hier kom jy om jou siel rust e gee en jou kragte te herlaai. Asem die see reuk in die bekommernis uit, kom lag en hoor die visserman se storie van die groot vis, kom geniet die rustigheid waar daar nie na die horlosie gekyk word nie, kom kyk na die skilderkuns sonsondergan en die sterre hemel wat in die aande homself wys langs die strand, jy kan dalk net meer as een verskietende ster raaksien.

Die aande is stil en jy kan net die branders hoor breek , en die ligtoring sien wat sy tyd hou en die kus bewaar. Steek die vuur aan, gooi vir jou `n drankie in, skop uit die skoene en dans op die stoep.

Ons was werklik in die (Honne-) hemel gewees die naweek en die batterye is weer herlaai toe die pad huis toe gevat moes word. Dit was verseker nie die laaste naweek wat hierdie dorpie ons sien nie.

Vat die afdraai op die grondpad en ontdek die verhale van die verlede en die skoonheid wat die natuur vir jou openbaar, jy is dalk net gelukkig en loop `n storie verteller raak wat jou `n skip vol verhale kan gee.

 


Honne-Hemel: Oubaas – Lia  082 960 7734  of 027 692 3095, honnehemel@gmail.com

Dop En Kreef: Lohana – 083 281 8327 (Facebook Blad: DopEnKreef Hondeklipbaai)